VIR MY SEUN: KLEIN DORPIE WAARDES WAT EK JOU WIL LEER
- rtbmamma
- Feb 4, 2019
- 8 min read
Ek wou al lankal vir my seuntjie ‘n lysie aanmekaar sit van alles wat ek hom graag wil leer oor die lewe,liefde en leed. HOE squeeze jy dan ALLES wat jy wil deel in ‘n bulletpoint skryfstukkie?? Ek dink die proses om alles te probeer neerskryf het my wysser gemaak op die feit dat ek as sy mamma ongetwyfeld nie volmaak is nie en iewers in my lewe hom onbewustelik teleur gaan stel of selfs seer kan maak. Dan onthou ek dat Jesus groter is as my menslikheid en ek kry weer ‘n “new found Hope”. Hier is my lysie. Daar is verseker nog baie ander dinge maar hier is my top 30 wat eerste opgepop het:
1. GEBRUIK JOU KOP & PRAAT UIT-DIE-HART
Dis mooi as ‘n man reguit is. Dink voor jy praat & sê wat jy voel. Om in sirkels te praat of nie by die punt uit te kom nie steel jou tyd en jou liefde.
2. MAAK GENOEG TYD VIR JOU GESIN & FAMILIE Alles is belangrik. Werk. Stokperdjies. Vriende. Alleen-wees. Maar jou gesin is jou hartklop. Dis waar jy die meeste van jou tyd gaan wees, so hoe meer jy daarin investeer, hoe meer belonend gaan dit vir jou wees.
3. WEES NEDERIG Dis nie in ’n mens (veral ‘n man) se natuur om nederig te wees nie. Dis ’n vrug van die Gees wat jy met hulp van die Heilige Gees kan bekom. Al is jou skouers hoog in die sterre, hou jou voete kaal en plat op die aarde. Mense het altyd meer tyd & respek vir iemand wat tyd en respek vir hulle het.
4. WEES LIEF VIR DIERE Hulle sê hoe jy jou ma en jou troeteldier behandel verklap hoe jy jou vrou eendag gaan hanteer. Hulle sê ook om ‘n diertjie te versorg is die eerste stap tot verantwoordelikheid soos vrou,kinders & werk op te pas.
5. LEER OM TE DANS Dans is belangrik. Dit wys so baie van ’n man se karakter & persoonlikheid. Jy moet lekker kan sokkie. Vat haar ferm om die middel - jy moet leiding neem. Dit wys vir haar jy is in beheer van jouself, haar en die situasie met selfvertroue en lewenslus. As jy sweet - dis oukei - koel af, spyt ‘n ietsie en vat haar WEER en WEER om die draai.
6. KYK NA JOU LYF Kry die balans. Net nie teveel nie & ook nie te min nie. ’n Six-pack, die perfekte hare en outfit het nog nooit die man gemaak nie. Maar net soos wat sy vir jou soos ‘n trofee moet voel waaroor jy wil spog, moet sy ook kan trots wees op wat sy wil huistoe bring. Wees altyd netjies en versorgd en ruik altyd lekker. Eerste indrukke hou vir altyd.
7. STAAN ALTYD OP VIR DIE KLEINER OUTJIE Automaties maak dit van jou die groter ou, as jy opstaan vir ander. Een wat nie houe uitdeel sonder rede nie. Een wat tyd maak om die mens binne die lyf te leer ken. Al is jy fisies groot, maak dit jou nie noodwendig sterker of beter nie.
8. WEES OPREG & EERLIK Mense is geneig om makliker te vergewe as jy opstaan & erken as jy fouteer het. Mense is skape, maar hulle is nie dom skape nie - Hulle snuif falsheid vinnig uit. Wees altyd eerlik met jouself en met ander - naastes en dies buite jou kringe. SO verdien jy respek!
9. VRA HAAR PA EERSTE Of dit nou vir trou is of selfs net ’n fliek-date, as haar pa jou vertrou, voel sy veilig by jou. Jy sal verbaas wees hoeveel meer jy toegelaat sal word as jy haar pa kan bewys dat jy sy dogtertjie kan beskerm en oppas (miskien selfs beter as wat hyself kan!)
10. TAFELMANIERE Die simboliek van samekoms om ‘n tafel is baie dieper as net om jou maag vol te kry. Dit wys egte liefde, waardering en belangstelling teenoor jou naaste. Waardeer die eenheid tussen mense en God. Bid voor jy eet, sê dankie as jy klaar is en moenie te vinnig opstaan nie. Kuier, gesels en wees dankbaar vir saam-wees-tyd.
11. OM ‘N GENTLEMAN TE WEES GAAN NOOIT UIT STYL NIE Maak die deur oop. Dra haar tas. Help om die inkopies af te laai. Groet vriendelik. Help om die wiel om te ruil. Hê meegevoel as sy hartseer is. Wees beleefd & maak altyd tyd vir haar en ander.
12. STAAN OP VIR WAT JY GLO Groepsdruk gaan nooit weg nie. Op skool. Na skool. By die werk. In jou huwelik. By familie. Mense se invloede is onvermeidelik. Wees seker in jouself en wat vir jou belangrik is, sodat wanneer jy getoets word, jy sterk kan staan by jou waardes en jou Here. Integriteit verdien respek.
13. MAAK JOU BED OP ELKE DAG Dit skep ‘n vorm van self-waarde. Dis die eerste taak wat voor jou hang as jy opstaan in die oggend,so doen dit goed! Dit bepaal jou vertroue en ywer vir die res van die dag. ‘n Simpel taak soos bed-opmaak kweek trots in wie jy is as man in die samelewing.
14. SIT JOU YSTERKNOPPIE AAN Mans moet TOUGH wees. Ek verstaan dit. Moet nie dat jou voete te sag is om soms op skerp klippies te trap nie, maar weet ook dat pyn ’n begin, ‘n middel & ’n einde het. Dit sal nooit vir ewig duur nie - so bepaal vir jouself of die daad die pyn werd sal wees. En as jy besluit dat dit is - dra die pyn met verantwoordelikheid en druk deur!
15. MOET NIE LAAT WEES NIE Uit ondervinding het ek geleer dat die lewe NIE NET OOR JOU GAAN NIE. Laatkommery is ‘n vorm van disrespek teenoor ander. As jy ooreenkom op ’n afspraak met iemand - hou daarby en wees betyds!
16. MOENIE DIE OU WEES WAT DIE HARDSTE LAWAAI NIE Die grootste monde blaas die meeste wind! Ons lewe in ‘n wêreld waar opinies teveel is en dade te min. Wees ’n doen-man. Doen altyd meer as wat verwag word & sê net die nodige.
17. STAAN OP, GROET & SKUD FERM BLAD, ALTYD, MET ENIGE IEMAND Daar is ‘n aantreklikheid aan ’n man wat homself nie wegsteek vir ander nie. Jy verteenwoordig jou hele gesin & alles wat jy is in ‘n twee-sekond-hand-skud. Wys respek,maar ook dat jy nie skaam is vir wie en wat jy is nie.
18. MOENIE LUI WEES NIE Met sweet en harde werk sal jy vir jou gesin brood op die tafel kan sit. Moet nooit lyf wegsteek en agteroor sit dat iemand anders vir jou iets doen nie. Wees gretig om te help en vir ander en jouself take ligter te maak. DIt wys jy het ruggraat!
19. LEER BY JOU PA Obviously, dink ek hy is die wysste,slimste,beste vir om by te leer - daarom het ek hom getrou! Ek wil hê jy moet alles wees wat hy reeds is en nog meer! ’n Pa is die heel beste plek vir ‘n man om oor homself te leer, want hy skep jou identiteit.
’n Pa is ook die beste konneksie vir jou verstaan van Wie God is. GEBRUIK JOU HULPBRON - Hy is daar vir jou!
20. SING SAAM AS MUSIEK BEGIN SPEEL Karen Zoid se “As musiek begin speel” liedjie sing ek al vir jou vandat jy gebore is. Wees die man wat JOY vind in die klein dingetjies wat die lewe lekker maak. Vergewe gou om weer gelukkig te wees. Die lewe is te kort vir ongelukkig wees.
21. KEN DIE HERE IN AL JOU WEË ‘n Behoefte wat mens regtig eers besef jy benodig as jy die dag op ’n punt kom waar jy iets het om te verloor.‘n Vrou vir wie jy lief is, of jou babatjie wat jy vashou. God het tonne beloftes uitgespreek oor jou lewe - CLAIM DIT! As jy jonk is is jy tough en ontembaar, maar ons kan eenvoudig net nie menslik dit alleen doen sonder Hom nie!
22. RESPEKTEER DIE FEIT DAT SY ‘N MEISIE IS - ONGEAG Jy gaan haar nooit ten volle verstaan nie, maar vergelyk haar met ’n stoomtrein: Jy moet fyn werk met haar seun, sy is net ‘n meisie. As sy wil wegry, dan trek jy haar in. As sy lui begin raak, dan stook jy haar weer warm & aan die brand. En as dinge regtig te warm raak, dan blaas jy haar af. Solank jy onthou, ’n meisie is heilige grond. Jy moet dit respekteer & jy moet haar lief hê.
23. SELFVERTROUE IS SEXY Daarmee sê ek nie hê ‘n oormaat daarvan nie. Die grens tussen vertroue en arrogansie is baie nou. Maar as jy as man van jou huis selfvertroue het in jou menswees, geloof en waardes is dit soos ’n veldbrand wat versprei, al jou mense sal aansteek by jou & julle kan dan saam die wêreld verander.
24. VERSTAAN HAAR LIEFDESTAAL, EN JOUNE OOK ‘n Area wat min mans regtig aan aandag gee & as hulle maar net weet watse verskil dit sal maak! Begin by jouself, dis makliker om haar behoeftes te ontmoet as jy jouself en jou geite ken. En wanneer jy weet wat maak haar hart klop, doen moeite om haar lief te hê in haar taal wat sy praat. Al is dit nie jou natuurlike instink nie, die bybel leer ons dat as jy saai vir iemand wat hulle benodig, sal die Here vir jou teruggee in jou eie behoeftes! HOE WOW IS DIT!
25. ALLES IS ALTYD OUKEI Die lewe het baie ups & downs. Dit voel meer gereeld af as op. As jy jou uitkyk op die lewe egter positief en inlyn met God se Wil hou, is daar ’n Hoop.
Alles sal egter ALTYD oukei uitdraai al vat sommige dinge soms langer om te genees as ander.
26. DIE 80-20 RATIO ‘n Wysheid wat van jou ouma af kom. In ’n verhouding sien ons baie maklik raak wat die ander een verkeerd en sleg doen.
Soms oorweldig die bietjie negatiewe ons so,dat ons die mooi en lekker dinge maklik vergeet.
Probeer altyd om eerder op die 80% goeie kwaliteite te fokus, eerder as die 20% negatiewe dinge.
Daar is altyd baie meer om voor dankbaar te wees as om oor te kla.
27. KORTBROEK & PLAKKIES ORAL WAAR JY GAAN SO simplisties tog SO belangrik. Wees jouself by almal. AS jy “bliksem” sê, sê dit by die huis, voor jou meisie se male en selfs in die kerk.
Punt is om nooit aan te pas by wie jy is nie. Wees gemaklik met wie jy is die heeltyd.
Druk jouself altyd om te leer en te groei by ander mense,
maar nie ten koste van jou eie persoonlikheid nie.
28. HAAL JOU HOED AF AS JY BID Respek & liefde gaan hand-aan-hand. As jy lief is vir die Here, toon respek. As jy ouer ooms en tannies,jou ouers en meisies respekteer,
wys jou liefde teenoor hulle. Mooi lyftaal en gebare is deel van die lewe se klein dingetjies.
29. BREEK GEREELD ROETINE Roetine & gewoonte is die vyand van gelukkige verhoudings. Maak tyd vir naweke wegbreek. Hê “guts” om nuwe dinge,kosse,style te probeer.
Wees altyd oopkop vir nuwe idees en ideale sonder om jou waardes te vergeet.
‘n Goeie balans tussen tradisie en die nuwe is wat jy moet soek.
30. VERGEET-MY-NIE Ag onthou tog jou ma! Ek was immers die eerste een wat jou skoppies gevoel! Terwyl jy nou nog klein is, is dit maklik om te weet jy het my nodig en lief. As jy eendag ouer is en liewer is vir jou vrou as vir my - dis hoe dit moet wees, onthou tog dat ek ook aan die anderkant sit en alles van jou weet, jou die heel beste verstaan en jou die heel liefste het. SO lief dat ek bereid is om jou te laat gaan, al is dit die heel moeilikste ding in die wêreld!

Comentários