top of page
Search

VALENTYNSDAG IN DIE BURG?

  • rtbmamma
  • Feb 4, 2019
  • 3 min read

Soos wat jy die vraag lees, voel jy hoe ongemaklikheid oor jou spoel soos ‘n yskoue emmer water, want ‘n spesiale aandjie vir twee in hierdie ou dorpie is net absoluut NOTHING SPECIAL! Die gevreesde Mall roep alweer as enigste antwoord om te gaan fliek of sushi te deel by CTFM maar hoe onoorspronklik dan tog!! EK smag na MEER! Ek en my man is hierdie jaar 5 jaar getroud. My seuntjie verjaar op die 13de Februarie. I KNOW RIGHT! Asof Januarie nie reeds ons koskas en beursie dolleeg verklaar het nie, moet ons begroot vir partytjiekoek en persente en die HELE familie wat kom koek en koffie. Tyd maak vir romanse word maar altyd dan afgeskeep en eenkant toe gestoot tot volgende jaar as ons “beter beplan”. Hierdie jaar val dit op ‘n Donderdag. Middelweek. Middelmaand. Moedeloos. Ek weeeeeeet tjoklits en rose bepaal nie die liefde tussen twee mense nie, maar dit help tog om wel die “love in the air” op daai dag te voel. Ek dink dis dalk juis die ding. Ons verwar die grootheid en oneindigheid van die Liefde deur dit in ‘n mooi swart boksie te wil sit, toe te draai in ‘n rooi lint en vir ons mans te gee op Valentynsdag. (Bewaar sy siel as hy nie op en af spring van dankbaarheid oor al die moeite nie!) Ek het gehoor dat roetine en gewoonte die ondergang van enige verhouding is, so hoe hou mens dit dan interessant as die opsies om alles “op te spice” so beperk is? My man se werks-skedule is deesdae “ever changing” so die kans dat hy gaan laat werk daai Donderdag is goed. Ek kan ook nie juis sê ek wag vir hom in romantiese kerslig in ‘n sexy kant-nommertjie nie, want hierdie swanger maag en spat are breek my selfvertroue van “way back when” toe alles nog styf en ferm was. Boonop, sal ons nie eers in die donker kan koekeloer nie want dis ‘n weeksaand - mannetjie moet vroeg op vir skool! Doeke. Melkbottels. Tandeborsel. Pottytrain. Roetine. Nagmerrie. Einde van die wereld? Dalk oordink ek dink. Ek probeer onthou hoe ons tweetjies ons eerste Valentynsdag saam spandeer het 5 jaar gelede. Hy het nog daai tyd op die myn gewerk. Ek het geswot. Pretoria. Omdat ons ver wou vry moes ons die prys betaal van baie vroeg opstaan. Dit was moeiteloos om moeg te wees vir Liefde. Platsak, met net genoeg buffels om petrol in te gooi terug Rustenburg toe, deel ons ‘n soen onder die mooiste sonsopkoms wat ek al ooit gesien het! (As jy verlief is, is alles mos is HD!) Hoekom verwag ek NOU dat my man moet uithaal-en-wys emosioneel, finansieel, heeltemal-teveel, as ‘n simpel soen die ding gedoen het 5 jaar terug? Verhoudings het fases en seisoene. Gretha Wiid het gesê: “Net soos kinders ontwikkel en daarmee saam kort-kort nuwe geite, giere, behoeftes en uitkyke op die lewe het,so gaan huwelike ook deur ontwikkelingsfases en seisoene van groei.” Ons huis is nou op ‘n “diep-asem-haal-en-tel-tot-tien” fase. Baie tantrums en baie take-aways. ‘n Fase van terugstaan, probeer verstaan en laat gaan. ‘n Fase waar dieper liefde vatplek kry deur al die onopgemaakte beddens, poefdoeke, gemisde date-nights en “te-moeg-vanaand-liefies” en dstv wat dag en nag slegs Nickjr of Cbeebies uitsaai. ‘n Tyd van liefde wat aanvaar en aanhou maak nie saak WAT nie! ‘n Tyd waar ons bankrekening leeg is, huis deurmekaar is, maar harte vol is. Dalk is die beste plek om te wees hierdie jaar op Valentynsdag JUIS net bymekaar…

Hier is wel ‘n paar “lovey-dovey-dinge-om-te-doen-in-rtb” hierdie Valentynsdag wat bietjie anders is as die gewone, sou jy en jou man nie lus is vir die Mall nie.. https://allevents.in/rustenburg/valentines-day

 
 
 

Bình luận


©2019 by Rustenburg Mamma. Proudly created with Wix.com

bottom of page