top of page
Search

VERBRANDE KOOKKOS

  • rtbmamma
  • Feb 4, 2019
  • 3 min read

Ons Afrikaner vroue is darm maar lief daarvoor om liefde en kos saam te sit. Lekker kos beteken “genuine” liefde vir jou hartsmense. Ons word groot met hierdie romantiese prentjie van jou man wat skewe-das en hang skouers by die voordeur instap en dan red jy sy gemoed as hy die geure van jou beste bredie of boud inasem. Hoe lekkerder hy eet bepaal sy waardering en liefde vir jou. As pasgetroudes het my man nagskof op die myn gewerk. Ek wou egter voldoen aan hierdie ideaal van “perfekte huisvroutjie speel” en as hy snags 02:00 in die oggende met vuil overall en seer voete by die huis ingestap het, was tafel gedek met ons beste eetgery, kerslig en selfs ‘n liefie-briefie in sy bord. PRAAT VAN ONREALISTIESE VERWAGTINGE SKEP! Ek het egter onlangs my laaste drie Sondag-kookos ekspidisies opgefoeter deur dit te verbrand, teveel of te min speserye, of bloot eenvoudig net moerby-disse te maak en alles dood te gooi met Mrs Balls en All Gold. Metter tyd het ons alleen-saam-wees minder geword. Werk. Kinders. Familie. ALLES behalwe ons-twee-alleen het voorkeur gekry, want dis net van groter prioriteit. En WIE het nou die lus of die tyd om ure voor ‘n stoof te staan en spartel en sweet en te skreeu “sjoe-sjoe eina” vir die sewende keer want klein mannetjie wil net vat aan die warm oond en plaat! Nie eers te praaaaat van mooi-maak nie, want na jy jou seuntjie oorreed het om  een uit sy vyf visvingers te eet in ruil vir ‘n roomys, voel dinge soos maskara en juwele, net eenvoudig te swaar om te dra. Woolies en Pick n Pay se ready-meals afdeling het ‘n gereelde stoppie na skool geword om vir manlief steeds die “100% home made with love” voor te probeer sit maar dis tevergeefs. Kits kos. Kits antwoorde op Google. Kits pakkies soppoeiersous vir daai extra “huiskos” touch. Kits eet-op-jou-skoot-voor-die-tv aande. Kits liefde? Dine van Zyl, die bekende skrywer van Die Groot Boerekosboek sê: “As jy ’n pakkie uiesop by jou kos gooi as geurmiddel, is dit óf van luigeit óf van pure onnoselgeit. Waar’s jou trots, my volk? Om boerekos te maak, het mens tyd nodig. Dis nie ’n vinnige ding, woerts-warts in die pot nie. Dis ’n rustige ding, ’n lewenswyse.” Is dit dan nie tog met die liefde ook so nie? Dis dalk hoekom kos en liefde - veral in ons boere manier -  juis so hand-aan-hand saam gaan. Om ‘n opregte en lekker bord kos te deel in die huwelik is ‘n konneksie. ‘n Saam-stem. ‘n Saam tevrede wees gevoel oor iets wat ons albei geniet. Dis ‘n kombinasie van sintuie waar julle dieselfde dinge ruik,sien,voel en proe op dieselfde tyd! En wat ‘n voorreg is dit dan nie as jy of hy of albei van julle betrokke was in die MAAK daarvan! Miskien vertel hierdie gedeelte uit Die Groot Boerekosboek dit beter: “Die eintlike ding van potjiekos is dat jy by hom moet sit. Salig op jou stoel saam met die mense wat vir jou saak maak; jy en jou sterre en jou bome wat donker skadu’s in die naglig gooi.Daar is die stille streep van satelliete in die hemelruim, daar is die flikkering van vliegtuie, voorspelbaar op hul tyd. Daar is die dynserigheid oor die berg en die veraf, gedempte klank van genieters van die nag.Jy hoor die paddas, jy ruik die grond, jy gooi ’n stompie op die vuur.Jy krap ’n koletjie onder die potjie se pens, buk af en luister. As hy fluister, is die hitte reg. Die stoom trek onder die deksel uit, daar is die soet geur van gaar uie, lamsvleis wat stowe, klam grond en blare wat teen die draadheining vasdwarrel.Jy skink ’n goeie glasie wyn. Jy sink weg in jou stoel en jou gemaklikheid. Potjiekos is ’n sielvolle ding, ’n peinsende ding, jy met jou gedagtes en ek met myn.” Grab-&-go etes se GAT!!! Van nou af gaan ek probeer kook, en lief hê, met geduld, passie en waardering vir alles wat dit is en bymekaar bring..


 
 
 

Comentarios


©2019 by Rustenburg Mamma. Proudly created with Wix.com

bottom of page