KONDENSMELK KOFFIE
- rtbmamma
- Feb 4, 2019
- 2 min read
Elke klein dorpie het daai een koffie winkel. Mammas se “go-to” om net weg te hardloop van ‘n deurmekaar huis vol woelwaters, rekeninge en die half-oorgedoende vertrek wat weereens ‘n maand moet wag vir klaarkom, want mooi-maak goed is net te duur! Jy ontsnap vir ‘n vinnige teetjie saam jou ma of ‘n vriendin net voor jy die kinders gaan optel. Lieflike afri-fraanse dekor, lekker ruik kerse, vars gebakte koeke en ‘n gemosaikde sement vloer. Jy word weggevoer om vir ‘n oomblik te verbeel jy sit in frankryk iewers by ‘n haai-pofaai plattelandse wynlandgoed met hoenders, vetplantjies en grysklippies met die sterk aroma van koffie op die tafel. In my geval, kondensmelk koffie. Ek voel geinspireerd. Daar is ‘n soort nostalgie aan kondensmelk. Jy verlang na die dae waar alles goedkoper, eenvoudiger was. Jy verlang na jou grootword en onthou met hoe min jy tevrede was. Jy koester jou “afrikaansgeid” as jy dink aan soet koffie in egte porselein koppies, of ‘n groot, groen fles wat vroeg winteroggende in die wildtuin of oppad see toe stoom as pa stop vir bene strek. Met elke slukkie voel jy hoe jou liggaam soet-slukkie na soet-slukkie genees. Dalk is dit die kombinasie van kondensmelk en geselskap wat die eintlike rede vir “lekker-voel” is. ‘n Gedeelde blikkie proe altyd soeter. Met my laaste slukkie soet, skop sussie in my maag. ‘n Regte “mamma-moment” waar ek myself oortuig ons het sopas ‘n ma-dogter-oomblik geshare. En net daar besef ek, ek is nie in Frankryk op ‘n wynlandgoed met hoenders nie. Ek is hier. In my eie klein dorpie vol stof en reen en dis oukei. Ek kan tog nie wag om haar vas te hou en laterjare saam haar by Die Melkstal ‘n kondensmelk koffie te deel nie…THAT’S what it’s all about!

Comments