‘N OOMBLIK VAN ONTNUGTERING
- rtbmamma
- Feb 4, 2019
- 2 min read
Ek vat ‘n slukkie koffie. Dis bitter, maar dis teminste warm. Stil. Vreedsaam. Lekker. 'n Voorreg wat ek as mamma het wanneer mannetjie by die skool is. Hy word nou Februarie twee. Sy sussie is in my maag, oppad. 24 Weke vandag. Na 'n lang week se brandboudjies by die huis, voel ek verskuldig aan myself vir 'n koppie WARM koffie. Swart, sonder suiker natuurlik, want anders oortree ek die wet van gesond “probeer” wees. Wat is dit met die “mamma-pressures” wat so op 'n mens kom sit sodra jy 'n oomblik vat vir jouself? Automaties voel ek skuldig as my koffie warm is; Dit beteken dan ek warrie teveel oor my eie behoeftes! Dis aaklig! Soos wat ek my derde-laaste slukkie vat (nou nie meer so vreeslik warm nie), opsoek na die waiter in Mugg & Bean wat my loere en roepe ontduik met elke verbyloop met iemand anders se bestelling, kry ek 'n oomblik van ontnugtering. LIGHT BOLB! Dis tyd om eerlik te wees met myself. Ek dink nie ek was al ooit tot die been eerlik met myself nie. Ek troos myself as my jean te styf begin sit en blammeer die tuimeldroer voor ek Bakoor Jakkals se wortelkoek die skuld gee. Ek oorreed myself dat 10min laat vir skool my prioriteit van “ "familie-eerste” bewys in plaas van te erken dat ek gefaal het om die eerste keer op te staan toe my wekker afgaan. Ek skop teen my ouers en skoonma se raad (al is hulle baie keer reg) want dis mos MY KIND en EK WEET BETER (al het ek soms nie 'n clue nie!) As mamma, vrou, idealis, verskilmaker, probeer mens sover moontlik konflik vermy en die reguit paadjie loop al val jy gedurig in daai gat van selfsug en verskoning. Ons vergeet dat dit oukei is om soms net te wees al is dit nie in die beste van fase of seisoen nie. So, miskien help hierdie “skryf-ding” my en hopelik 'n paar ander om nie noodwendig antwoorde op alle vrae te bekom nie maar eerder TEVREDE met die situasie, al isit nie die beste een nie. Hierdie journey is een van leer en lief. Ek gaan probeer so eerlik as moontlik wees met alles wat ek neerpen en hopelik uit dit alles inspirasie kry om in my menslikheid, vol foute en al, 'n lig in hierdie dorp te wees wat die mooi en lekker in alles raak sien as mamma van my kinders, vrou vir my man, dogter van God en swerwer sonder rigting…

Comments